Kuns: Francis Bacon | Vrouekeur

Kuns: Francis Bacon

‘Daar was skilderkuns in Engeland voor Three Studies en daar was skilderkuns daarna en niemand … kan die twee verwar nie”

francis_bacon

DEUR: Johan Myburg
Francis Bacon se Three Studies for Figures at the Base of a Crucifixion, 1944, olie op drie borde. Dié werk is in die versameling van die Tate in Londen.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het introspeksie onvermydelik ‘n groot rol in kunsneigings wêreldwyd begin speel. Amerikaanse kunstenaars het hul rug op Europa gekeer en die koers van abstrakte ekspressionisme ingeslaan. Die Duitsers het donker sit en broei en die Russe het op propagandistiese sosiale realisme teruggeval.

Dit was die Britte wat die fakkel van figuratiewe kuns bly voortdra het, met nadruk op vorm en met getemperde kleurgebruik, maar bowenal op die tekstuur van die verf. Meer as net die uitbeelding van figure was dit die vorm en hoe dit aangewend kan word wat kunstenaars soos David Hockney, Lucian Freud en Francis Bacon gefassineer het.

Dié drie het ‘n leeue-aandeel aan die hervestiging van figuratiewe kuns in Brittanje gehad – figuratief, maar nie noodwendig realisties nie.

Francis Bacon (1909-1992) se figuratiewe skilderye is verteenwoordigend in dié opsig dat die somtotaal van die vorms wat hy gebruik wel eienaardige en verwronge herkenbare voorwerpe word.

Anders as baie van sy tydgenote was Bacon nie op kunsskool nie en het sonder formele kunsopleiding begin skilder. As jong man het hy in binnenshuise ontwerp gewerk. Dit was nadat hy ‘n uitstalling van Picasso in Parys in die laat 1920’s gesien het, dat hy besluit het om hom op skilder toe te lê. Dit was veral Picasso se uitbeelding van die lyf wat hom van “die moontlikhede van skilder” bewus gemaak het.

“Ek wou vorms skilder,” het Bacon later oor sy vroeë werk gesê. “Soos wat Picasso gedoen het teen die einde van die 1920’s. Picasso het die suggestie geplant – wat toe nog grootliks onontgin was – van organiese vormgewing wat na die mens verwys, maar wat terselfdertyd ‘n volledige vervorming daarvan is.

Dit was met die triptiek Three Studies for Figures at the Base of a Crucifixion waarmee Bacon in 1944 op 35-jarige ouderdom sy reputasie as skilder gevestig het.

 

Die drie doeke verbeeld drie antropomorfiese figure uit teen ‘n plat oranje agtergrond – met verwysing na die Eumenides of skikgodinne uit die Griekse klassieke dramaturg Aesculus se Oresteia. In ‘n latere onderhoud het Bacon gesê dit was veral Aeschylus se woorde “die reuk van mensebloed glimlag vir my” wat hom bygebly het terwyl hy dié triptiek geskilder het.

Sy hantering van veral die monde van die drie figure eggo hierdie gevoel.

Toe hierdie Three Studies in 1945 die eerste keer vertoon is, is dié werk onmiddellik as ‘n eerlike en ontsettend pessimistiese antwoord op die oorlog gelees. Daarná het Bacon sy vorige werk as “irrelevant” beskou en sy lewe lank dié vroeë werk van die kunsmark probeer weghou.

Dit was die kunskritikus John Russell wat in 1972 gesê het “daar was skilderkuns in Engeland voor Three Studies en daar was skilderkuns daarna, en niemand … kan die twee verwar nie”.

Aan sy “gillende pouse” het Bacon iets soos 20 jaar gewerk – 45 variasies op Diego Velázquez se portret van pous Innocentius X. Die oudste (oorblywende) portret dateer van 1949 en die laaste een van die middel-1960’s.

Bacon het nie met dié skilderye enige kommentaar oor die Rooms-Katolieke Kerk probeer maak nie – dit was volgens hom die ideale onderwerp om by die kleure van pouslike kleredrag uit te kom, want “jy kan nie enigiemand dié skakering purper laat dra sonder dat dit oneg voorkom nie”.

Bacon het Brittanje in 1954 op die Venesiese Biënnale verteenwoordig en in 1962 en weer in 1985 ‘n oorsiguitstalling in Parys se Grand Palais aangebied.

Send this to a friend