Kuns onder die knie

Johan Myburg skryf oor die invloed van die vroegste boustene van kuns

 In verlede week se artikel in dié reeks is verwys na enkele van die boustene uit die tyd voor die aanvang van die Christelike jaartelling – van die vroegste ryke van die Egiptenare, Mesopotamiërs en Grieke tot die klassieke Griekse era en dié van die Romeine, maar ook dié van die Ooste.

As ‘n mens kuns deur die eeue mooi bekyk, sien jy van dié boustene oral uitslaan. Want kuns is tot ‘n groot mate ‘n voortdurende verwerking en herinterpretering van dié oeroue elemente.
Toe skilders byvoorbeeld in die derde eeu uitbeeldings van Christus wou maak en op een of ander manier in die voorstellings ook rekening wou hou met sy godheid, het hulle teruggeval op die stralekrans uit die Griekse en Romeinse tradisie. Die Grieke en Romeine het ‘n heerser of held aangedui deur middel van ‘n gloed om die kop; net soos wat die beeldhouers van Gandhara in Indië die Boeddha as ‘n godheid van ‘n mandorla voorsien het.

Voorstellings van tonele uit die Bybel in die Vroeg-Christelike era (die eerste paar eeue ná Christus) eggo iets van die Egiptiese reliëfkuns: figure is besonder eendimensioneel voorgestel, sonder skadu of diepte. Wat moes uitstaan was nie die werklike weergawe van die figure nie, maar hulle belangrikheid.

Jare later, in die Renaissance, toe Michelangelo (1475-1564) sy beroemde Dawid-beeld uit marmer gekap het, het hy met behulp van “contrapposto” teruggegryp na Griekse vormgewing. Deur die meeste gewig op een voet te plaas en met die skouers en arms ‘n aks gedraai op die heupe en bene, het Griekse beeldhouers ‘n besondere beweging óf stilte in die beelde bewerkstellig. Vergelyk Dawid byvoorbeeld met die Kritios-seun.

Teen die einde van die 18de eeu en tot en met die helfte van die 19de eeu het al wat ‘n Europese (veral Franse) kunsuiting is – van skilderkuns tot mode ¬– inspirasie geput uit die klassieke wêreld van die Grieke. Soveel dat dié tydperk Nieu-Klassisisme geheet het.
‘n Mens kan kwalik oor Nieu-Klassisisme praat sonder om te verwys na Jacques-Louis David se skildery, Die eed van die Horatii (1784).

David vergestalt die gebeure in ‘n verhaal van die Romeinse skrywer Livius. Die drie Horatius-broers van Rome gaan in geveg die eer van die stad verdedig teen die drie Curiatius-broers van die nabygeleë Alba Longa. Die eed van getrouheid word afgelê voordat die pa die drie swaarde aan die seuns gee. In die middel van die groepie vroue is Camilla, suster van die Horatius-broers, maar verloofde van een van die Curiatius-broers. Wat die uitslag van die geveg ook al gaan wees, sy gaan ‘n verlies ly.

As reaksie op die oordaad van die voorafgaande Rococo-styl het kunstenaars van die Nieu-Klassisisme gestreef na eenvoud, na soberheid en edel ideale. Nêrens word dit só beliggaam as juis in dié skildery van David nie.

Ondanks die mans se lenige gespierdheid en gereedheid is die aksie gevries, en oor die vroue hang ‘n Stoïsynse gelatenheid. Die agtergrond ding nie mee nie, en selfs die pilare is van die soberste soort, die Doriese.

Tydens die Nieu-Klassisisme het die klassieke ook te voorskyn gekom in vroue se kleredrag – veral in die sogenaamde Empire-snit van die Napoleontiese era.

Ná Napoleon se militêre ekspedisies in Egipte het Europese, veral Franse, argitektuur ‘n sterk skeut Egiptiese motiewe begin kry. Pilare het byvoorbeeld die papirusplant geëggo.
En ná die ontdekking van Toetankamen se graf in 1922 het Egiptiese motiewe wéér die ronde begin doen. Kyk maar na die invloed van dié motiewe op die Art Deco van die 1920’s en 1930’s.

Send this to a friend