Kuns uit eie bodem: Alexis Preller (1911 – 1975

Johan Myburg skryf oor die werk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Alexis Preller (1911-1975)

 Oor sy skilderwerk het Preller opgemerk: “Ek identifiseer met my tyd en plek: Afrika in die 20ste eeu.”

Haar katalogus-opstel vir Alexis Preller se oorsiguitstalling in die Pretoriase Kunsmuseum in 1972 begin Esmé Berman, kunsskrywer, –historikus en goeie vriendin van Preller, met dié woorde: “Alexis Preller is ‘n komplekse, ongewone kunstenaar en ‘n komplekse, ongewone man.”

Hoewel die kunstenaar en die man kwalik apart getakseer kan word, is dit eerder sy komplekse, ongewone kunswerke wat hier ter sprake is. Karel Nel en Esmé Berman het in 2009 ‘n visuele biografie in twee bande oor Preller gepubliseer: Alexis Preller: Africa, the Sun and Shadows / Collected Images, met hope inligting oor die kunstenaar én die man.
Nel, professor aan Wits se kunsteskool, was ook die kurator van ‘n oorsiguitstalling van Preller se werke in die Standard Bank-galery in Johannesburg. Dié uitstalling in 2009 was die eerste ná die 1972-uitstalling.
Preller was dus vir 37 jaar uit die openbare oog. Die erkenning wat hy in sy leeftyd geniet het, het ná sy dood in 1975 getaan en sy “buitestander-status” het toegeneem.
Hoewel hy dikwels op die periferie beweeg het, het hy terugskouend juis daarin geslaag om as baanbreker met ‘n kenmerkende ikonografie (beeldbeskrywing) die kuns van Afrika sy eie te maak.

Dat Preller as eksponent van Suid-Afrikaanse moderne kuns die bakens versit het, staan soos ’n paal bo water. Visioenêr wat hy was, het hy dalk nie so vol in die kollig gestaan soos sy tydgenote nie. En derhalwe het hy tot nou toe nog nie soos Irma Stern en Maggie Laubser die golf van hedendaagse veilinggewildheid gery nie – hoewel veilingrekords op die teendeel begin dui.

Omdat Preller in sy werk so mities en eklekties te werk gegaan het, kan die opvatting bestaan dat sy werk moeilik is om te begryp. Maar begrip is per slot van sake ook nie die een en die al nie. Om jou gewoon in Preller se beeldrykheid te verloor is reeds ’n ongelooflike ervaring  . . .
In heelwat van sy werke kom Preller vorendag met ‘n eie taal van tekens en simbole: onder meer Dogon-beelde, skulpe, maskers, elemente van die Ndebele-kultuur en –argitektuur en bowenal die Mapogger- of te wel die matriargale Ndebele-figuur.

Sy belangstelling in die visuele wêreld van die Ndebele, ‘n belangstelling wat kom sedert die 1930’s, het uitgeloop op Hieratic Women (1955) en Women in the Night, ook bekend as Hieratic Women (1955-57). Hoewel sy voorafgaande Mapogger-skilderye (Mapogga Women, 1950; Ritual Mapogga, 1951 en The Last of the Mapoggas, 1954) saampraat in dié vergestalting van drie priesterlike vroue, is dit die verwysings na antieke Egipte wat ‘n mens opval. Preller het dié land in 1953 besoek en was meegevoer deur die muurskilderye in die tombes.

Iets van die Egiptiese uitbeelding van gode as halfmens, half- simboliese wese, kom na vore in dié figure. Die koppe met ‘n kennebaard – aanduiding van goddelike koningskap waar dit op beeld van die farao’s (mans sowel as vroue) aangebring is – word gekontrasteer met die rondborstigheid van die vrouelywe.

Aan Preller se werk kan ‘n mens moeilik ‘n etiket hang wat dit wil laat inpas in die een of ander kunsrigting of -beweging.

Haar 1972-katalogusopstel eindig Berman só: “Uit sy ervaring, sy waarnemings en sy innerlike menswees het Alexis Preller vorms en kleur getrek en ‘n visie geskep wat konseptueel oorspronklik, kreatief en histories eiesoortig is.”

Send this to a friend