Klassieke klanke: Avigail Bushakevitz

“Ek is alles aan hom verskuldig,” sê sy oor haar eertydse leermeester

Johan Myburg

Die violis Avigail Bushakevitz is vanjaar se Standard Bank Jong Kunstenaar vir musiek en sy is op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad te sien as een van dié fees se feeskunstenaars. Sy tree op saam met die Oos-Kaapse Filharmoniese Orkes onder leiding van Richard Cock.

Bushakewvitz woon deesdae in Berlyn, Duitsland, waar sy lid is van die Essenz-strykkwartet en sedert 2014 violis is in die Berlynse Konzerthausorchester. Benewens konsertreise die wêreld vol tree sy gereeld in Suid-Afrika op, gewoonlik saam met haar broer die pianis Ammiel Bushakevitz.

Avigail Bushakevitz is in 1988 in Jerusalem gebore, maar het in Suid-Afrika grootgeword en haar eerste kennismaking met vioolles hier gehad. Haar ouers het hulle in 1989 in George gevestig en op vyf het sy begin klavier speel. Haar broers, Benjamin en Ammiel, het toe reeds klavieronderrig ontvang. Op agt het sy viool begin speel.

Haar ma, Leonore, het haar kind se talent raakgesien en elke twee weke van George na Stellenbosch en later na Kaapstad gery vir vioolles by die befaamde prof. Jack de Wet, wat ook die leermeester was van violiste soos Pieter Schoeman en Jan Repko.

Oor haar klas by De Wet het Bushakevitz vroeër in ? onderhoud opgemerk dat sy daagliks ten minste drie uur lank moes oefen. “Ek is alles aan hom verskuldig,” sê sy oor haar eertydse leermeester.

Gedurende dié tyd, van 2000 tot 2007, het Bushakevitz verskeie musiekkompetisies gewen – van die Sanlam-kompetisie vir laerskoolleerlinge tot die Remgro/VenFin-studiebeurs wat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2005 aan haar toegeken het. Sy het ook ‘n Samro-studiebeurs vir voorgraadse studie verwerf.

Ná tuisskoolonderrig, gewoon om voorsiening te maak vir haar intensiewe oefenprogram, het Bushakevitz musiek studeer aan Unisa en daarna met behulp van ‘n studiebeurs van die Ackerman-stigting haar studie aan die Juilliard-musiekskool in New York gaan voortsit.

Aan Juilliard het sy studeer onder leiding van Sylvia Rosenberg en Lewis Kaplan en in 2012 haar meestersgraad in viool behaal.

Tydens haar Juilliard-studie het sy in 2009 Unisa se nasionale kompetisie vir strykers gewen en daardie jaar ook Sibelius se Vioolkonsert saam met die Johannesburg Philharmonic (JPO) uitgevoer.

In New York se Carnegie Hall het sy saam met die Juilliard-orkes die geleentheid gehad om onder leiding van Michael Tilson Thomas te speel – volgens haar een van die hoogtepunte in haar loopbaan.

In 2012 het sy ook Samro se studiebeurs vir oorsese studie verwerf en die volgende jaar haar studie onder Hagai Shaham aan die Buchmann-Mehta-musiekskool in Tel Aviv gaan voortsit. Die Buchmann-Metha-skool is in 2005 begin met ‘n ruim skenking van Josef Buchmann en die visie van die dirigent Zubin Metha.

Verlede jaar het Bushakevitz afgesien van die FynArts-fees in Hermanus ook ‘n kort konsertbesoek saam met Daniel Barenboim se West-Eastern Divan-orkes aan Spanje en Abu Dhabi gebring.

Sy is tans besig met verdere studie aan die Berlynse Hanns Eisler-musiekakademie onder leiding van die Sweedse violis en akademikus Ulf Wallin.

“Ek het al soveel begaafde violiste teëgekom wat grootgeword het in New York, in Berlyn of in Tel Aviv wat nog nooit die voorreg gehad het om ‘n concerto saam met ‘n orkes te speel nie. In my land het ek al soveel geleenthede gehad waarvoor ek intens dankbaar is,” sê sy.

Die Nasionale Kunstefees duur van 30 Junie tot 10 Julie in Grahamstad.

Kyk hier na ‘n opname van Benjamin Bushakevitz se komposisie Heart Song, uitgevoer deur sy broer en suster, Ammiel en Avigail Bushakevitz.

 

[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/FC6BTqaKPDI” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

Besoek ook Avigail Bushakevitz se webwerf www.avigailbushakevitz.com.

Op ClassicSA se webwerf is ‘n onderhoud met prof Jack de Wet waarin hy spesifiek praat oor die uitdagings vir jong kinders wat begin viool speel asook oor ouers se rol en aandeel.

www.classicsa.co.za/site/features/view/jack_de_wet_-_the_professor_who_became_jack/

 

 

Send this to a friend