Klassieke klanke: Die Weense tradisie van Nuwejaarskonserte | Vrouekeur

Klassieke klanke: Die Weense tradisie van Nuwejaarskonserte

In Vrouekeur van 1 Januarie skryf Johan Myburg oor die Weense tradisie van Nuwejaarskonserte. Die inligting hier onder is aanvullende tot dié rubriek

JOHAN MYBURG

Nuwejaarskonserte met Weense swier, ’n lang tradisie én stewige kaartjiepryse.

As gevolg van die enorme aanvraag word kaartjies vir die Weense Filharmonie se konserte op Ou- sowel as Nuwejaarsdag jaarliks op sy webwerf uitgeloot. Op dié manier kry musiekliefhebbers van reg oor die wêreld ’n gelyke kans om kaartjies te bekom. Tussen 2 Januarie en 29 Februarie vanjaar kan jy op die webwerf www.wienerphilharmoniker.at registreer om in aanmerking te kom vir die konserte vir 2016/7.

Kaartjiepryse wissel van R520 tot R16 000 vir die Nuwejaarskonsert, R370 tot R10 600 vir die Oujaarskonsert en R300 en R6 700 vir die voorskoukonsert.

Die program vir al dié konserte is dieselfde.

Kyk na die voorprent van die 2015-konsert, met Julie Andrews as gasvrou.

[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/VyhUMgnIf_s” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

Oorweeg dié opnames

’n CD- en ook ’n DVD-opname van die Weense Filharmonie se 2014-konsert is beskikbaar onder die Sony Classical-etiket. Die dirigent by dié geleentheid was Daniel Barenboim.

Benewens die gewone gunstelinge is op dié CD ook die sogenaamde “Olyftak”-wals van Josef Strauss en die “Maanligmusiek” uit Richard Strauss se Capriccio ingesluit.

Ook onder die Sony Classical-etiket is die Weense Filharmonie se 2015-konsert op CD en op DVD beskikbaar. Die dirigent was Zubin Mehta, wat dié orkes ook in 1990, 1995, 1998 en 2007 in Nuwejaarskonserte gedirigeer het. Benewens die bekende Strauss-werke is ingesluit musiek van Von Suppé en Lumbye.

Send this to a friend