Kuns: Goya: The Portraits

Hoewel hoeveel perspektiewe op die werk van die Spaanse meester Francisco de Goya in talle uitstallings wêreldwyd al aangebied is, word die jongste in die National Gallery in Londen, Goya: The Portraits, geloof as die uitstalling van die jaar. Dié uitstalling is te sien tot 10 Januarie.

JOHAN MYBURG

Die hertogin van Alba, die skildery wat Goya in 1797 geskilder het, en wat nou vir die eerste keer in Londen uitgestal word.

Hoewel hoeveel perspektiewe op die werk van die Spaanse meester Francisco de Goya in talle uitstallings wêreldwyd al aangebied is, word die jongste in die National Gallery in Londen, Goya: The Portraits, geloof as die uitstalling van die jaar. Dié uitstalling is te sien tot 10 Januarie.

The Telegraph verwys daarna as die “opwindendste uitstalling in dié galery sedert die een in 2006 waarin die werk van Goya se voorganger, Diego Velázquez, vertoon is.

Die Financial Times eggo dié mening en beskryf die uitstalling as die “uitmuntendste en aanskoulikste uitstalling van die jaar”.

The Huffington Post meen dié uitstalling is ’n kans in ’n leeftyf om Goya se beste werke van nader te beskou.

Hier is die lokprent vir die uitstalling Goya: The Portraits.

En in ’n kort video gee die Britse joernalis en kommentator Jeremy Paxman ’n inleiding tot die uitstalling Goya: The Portraits.

 

[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/m0gVhw4VUZA” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

Wat is dit dan wat kritici so gaande het?

Dis die eerste keer dat ’n uitstalling uitsluitlik op Goya se portrette fokus en boonop is die 70 werke in dié uitstalling byeengebring uit versamelings reg oor die wêreld.

En daarby was Goya een van die merkwaardigste portretskilders in die kunsgeskiedenis. Soos die kurator van dié uistalling, Xavier Bray, assistant-kurator van Europese skiderkuns by die National Gallery, sê: “Met sy innoverende en onkonvensionele benadering het hy portretkuns tot nuwe hoogtes gevoer – juis omdat hy daarin geslaag het om die innerlike lewe van sy sitters ontbloot het. Selfs in sy formeelse portrette.”

Die portrette sluit werk in wat in private besit is en nog nie voorheen openbaar vertoon is nie, soos die portret Don Valentin Bellvis de Moncada de Pizarro, 1795.

En dan is daar werke wat selde uitgeleen word. So is dit byvoorbeeld die geval met die indrukwekkende Hertogin van Alba, 1797, wat voorheen nog net een keer die VSA verlaat het en nog nooit in Londen te sien was nie.

Een van die hoogtepunte in die uitstalling is die portret van die hertogin van Alba, 1797, met wie Goya konsuis ’n verhouding gehad het.

Nietemin was sy minstens ’n goeie vriend en ondersteuner van die skilder.

Goya verbeeld haar in ’n slanke swart tabberd en mantilla. Maar die opvallende is haar vinger wat grond toe wys waar in die sand geskryf staan: “Solo Goya” (net Goya).

Dié skildery is deel van die versameling van die Hispanic Society of America in New York. Dié vereniging is in 1904 deur Archer M. Huntington begin in ’n poging om die kuns, letterkunde en kultuur van Spanje, Portugal, Latyns-Amerika en die Filippyne in die VSA te bevorder.

Onder die kunsskatte wat dié vereniging het, is werk deur onder andere El Greco, Velázquez en Goya.

Die werke is chronologies gehang en verrassend genoeg sonder die ellelange teks wat deesdae gebruiklik geword het by al wat ’n uitstalling is. Is dit dalk dat die kurator vermoed die besoekers weet dalk vooraf iets oor Goya se portrette, of dat hulle op hul eie kan oplees as hulle nié weet nie?

In dié spesifieke geval is die wins van die afwesigheid van verklarings dat die kyker kan fokus op wat hy of sy sien. Verklaring is nie die een en die al nie. Kyk is. En omdat die skilderye in chronologiese volgorde hang, kan die kyker maklik iets soos die ontwikkeling in Goya se werk maklik volg.

Volgens The Guardian se resensent Adrian Searle het die uitstalling net soveel geheimenisse as portrette van vername mense. Volgens hom lê die ware misterie dieper as die vaardigheid waarmee Goya die tierlantyntjies van die kleredrag verbeeld. Dit het eerder te make met die manier waarop die sitters hul klere dra en dikwels óf selfingenome óf selfbewus voorkom.

Searle meen dit sal van skrywers bladsye en bladsye verg om dié nuanses te kan verwoord.

Maar bowenal het Goya mense nie slegter óf beter probeer maak in sy skilderye nie. En al dra sy onderwerpe die wonderlikste klere en al is hulle van watter vername klas ook al, hulle bly steeds mense. En hy skilder hulle as mense met wat hul eie gedagtewêreld sou kon hê. Op só ’n manier dat ons sou kon dink ons kan hulle verstaan.

Kyk ook na ’n video waarin die kurator, Xavier Bray, oor die uitstalling praat.

[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/V7AqJ-zYDNM” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

Send this to a friend