Klassieke klanke: Zanne Stapelberg | Vrouekeur

Klassieke klanke: Zanne Stapelberg

Zanne Stapelberg drink vanjaar op die Vrystaat Kunstefees tee, onder andere met Puccini

Johan Myburg

Zanne Stapelberg, die Kaapstadse sopraan, bied saam met haar begeleier Philippus Hugo (klavier) ? program van “klassieke vuurwerke, sublieme arias en hartseer-liedjies” aan op die Vrystaatse kunstefees wat middel-Julie in Bloemfontein aangebied word.

Die program, Tea with Puccini, word aangebied as ‘n “weelderige nuwe opera-kabaret” met haar weergawes van onder meer arias soos “Casta diva” uit Norma van Bellini, “Si mi chiamano” uit La bohème van Puccini en Delila se “Mon cœur s’ouvre à ta voix” uit Saint-Saëns se Samson et Dalila. Dié arias vul sy aan met onder meer liedere uit Bernstein se West Side Story asook Barber se Sure on this Shining Night.

Stapelberg (39) is ‘n bekende op die verhoë van die Vrystaat-kunstefees en ook dié van ander kunstefeeste in die land. Dalk juis omdat sy welslae behaal het in ‘n wye verskeidenheid programme – in opera, die kunslied, kabaret en variété.

As kind het sy viool- en altvioollesse gehad en op hoërskool saxofoonlesse by Petra von Zuilenberg en aan die Universiteit van Stellenbosch se musiekdepartement onder Daryl Walters totdat sy in 2000 by Kaapstad-Opera se operaskool aangesluit het.

In 2001 het sy die toekenning as die beste operasanger van die Kaapstad Vriende van die Opera ontvang.

Op 22 het sy die titelrol vertolk in Kaapstad Opera se produksie van Puccini se Suor Angelica.

Haar professionele debuut as Marguerite in Gounod se Faust in Kunstekaap in 2003 het die resensent Thys Odendaal indertyd beskryf as “insiprenend”. “Stapelberg se Marguerite wás ‘n onthulling, allermins die kinderlik-naïewe (tradisionele) blondepruik-sopraan wat verkrummel in Mefistofeles se konkel-kloue.” Wat in haar aanbieding opgeval het, was ekstra dimensie in haar spel, sang, teksbeelding en teenwoordigheid.

Saam met dié vertolking van die rol van Marguerite tel haar vertolking van die Mimi-rol in La bohème onder haar top-prestasies.

Vyf jaar later het Standard Bank haar aangewys as Jong Kunstenaar vir musiek en het sy vir die 2008 Grahamstad-fees ‘n program van ligte klassieke treffers aangebied saam met die Kaapstadse Filharmonie onder leiding van Peter Valentovic en ook in ‘n gala pops-konsert onder leiding van Richard Cock.

Benewens die rolle in Bohème en Faust het sy ook uitgeblink as Nella in Gianni Schicchi (Puccini), as Ilia in Idomeneo (Mozart), as Handel se Alcina in die gelyknamige opera en as Pamina in Die Zauberflöte (Mozart).

Haar oratorium-repertorium sluit in Messiah (Handel), Gloria (Vivaldi), Die Schöpfung (Haydn), Dixit Dominus en Requiem (Mozart), Ein Deutsches Requiem (Brahms) en William Kentridge se Confessions of Zeno met musiek deur Kevin Volans. Sy was ook in Marthinus Basson se 2006-voorstelling van Pulcinella (Stravinsky).

Hendrik Hofmeyr het vir Stapelberg ‘n sangsiklus, Die stil avontuur, geskryf geskoei op gedigte van Elisabeth Eybers en sy het ook Hofmeyr se Byzantium, 1997, vir sopraan en orkes, uitgevoer.

Onder die naam van haar produksiemaatskappy Long Tall Woman Productions wat sy in 2004 gestig het, het sy produksies geskep waarmee sy die kunstefeeskringloop, van die Nasionale Kunstefees tot Innibos, gedoen het.

Stapelberg het in 2012 haar eerste CD, Soul of Fire, saam met die New Yorkse pianis Kathleen Tagg uitgegee en dit die volgende jaar opgevolg met Zanne Stapelberg Opera Gala.

Tea with Puccini is te sien op 17 en 18 Julie. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en die Kunstefees-kaartjiekantoor. Besoek www.vryfees.co.za.

Kyk na Zanne Stapelberg en Kathleen Tagg se uitvoering van ‘n tradisionele Spaanse Zapateado.

[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/FjTZVQDvgXU” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

In 2013 was Zanne Stapelberg saam met die kitaarspeler James Grace op Aardklop met ‘n program vir stem en kitaar. 

[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/jVKasqaNUJE” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

Send this to a friend