KUNS: Joan Miró

Oor sy werkwyse het hy opgemerk: “Hoe kom ek vorendag met idees vir my skilderye? Wel, saans in die bed sien ek goed teen die plafon, wat ek aanteken in my notaboek…”

Johan Myburg

In 2002 is ‘n uitstalling van laat werke van die Spaanse kunstenaar Joan Miró in Johannesburg en ook Kaapstad aangebied. Die uitstalling het grootliks gefokus op die oervorme en beelde in Miró se werk, waarin ook verwys word na die invloed van Afrika-kultuur op die ontwikkeling van modernisme.

Maar Joan Miró (1893-1983), skilder, beeldhouer en keramiekkunstenaar, het geput uit ‘n magdom verwysings – van Katalaanse keramiekware, Middeleeuse Spaanse tapisserieë en Romaneske fresko’s tot die werk van Hieronymus Bosch, maar eweso die werk van die Nederlandse meesters en die Amerikaanse abstrakte ekspressionisme.

Soos met die kuns van die Fauviste en Kubiste het Miró voortgebou op die skilderwerk van Van Gogh en Cézanne. Na dié skilderye met ‘n droomkwaliteit word verwys as Miró se “Katalaans-Fauvistiese periode”.

Ná sy eerste solo-uitstalling in Barcelona in 1918 het Miró hom in Parys gevestig, waar hy in aanraking gekom het met die Surrealisme en in 1924 by dié groep aangesluit het.

Uit dié tyd kom een van Miró se bekendste werke, wat vertaal kan word as Die bewerkte land (1923-24), ‘n blik op sy familie se grond in Montroig, Katalonië. Oor dié poëtiese metafoor waarmee hy die idille oproep van die omgewing waar hy grootgeword het, het hy opgemerk: “Ek het daarin geslaag om te ontsnap na die absolute natuur.”

Dis juis in dié skildery waarin heelwat van Miró se invloede byeengebring word: Die platheid van Middeleeuse tapisserieë en selfs die rotstekeninge van die Spaanse Altamira-grot, ‘n magdom figuurtjies wat herinner aan keramiek, en les bes Bosch se Tuin van aardse vreugdes (1503-15).

Oor die talle interpretasies en verklarings van Die bewerkte land het Miró gesê daar word veel meer íngelees as wat werklik verbeeld word – ‘n dilemma wat (onder meer) by die kuns van die Surrealiste wyd loop.

Wat ‘n mens wel kan (en moet) doen, is om noukeurig na die verwikkelde ikonografie in dié skildery te gaan kyk. Die kleurgebruik (geel, blou en oker) herinner onmiddellik aan dié van die Katalaanse fresko’s in die kerke van die Vall de Boí in die noordooste van Spanje. Die doek (66 x 92,7 cm) word horisontaal in drie verdeel wat aarde, see en lug sou kon ondeskei. ‘n Diagonale lyn van links bo na regs onder skep die illusie van nag.

Die verskeidenheid voorwerpe in die skildery herinner aan mens-, dier- en plantvorme wat terug te herlei is na Katalaanse keramiek-ornamente. Regs ‘n iemand besig om te ploeg (die os herinner aan die Altamira-tekeninge) en neffens ‘n huis is ‘n voorwerp met die Franse, Katalaanse en Spaanse vlae.

In 1923, die jaar waarin die skildery begin is, het die Spaanse diktator Primo de Rivera streng maatreëls ingestel, onder meer om die Katalaanse vlag en taal te verbied, in ‘n poging om Katalaanse separatisme te onderdruk.

Toe Miró in 1947 en weer later in 1959 op besoeke aan die VSA eerstehands in aanraking gekom het met abstrakte ekspressionisme, het hy geleer van kunstenaars wat jare tevore reeds van hom geleer het.

As gevolg van dié invloed het hy losser begin werk, met meer en helderder kleur.

Oor sy werkwyse het hy opgemerk: “Hoe kom ek vorendag met idees vir my skilderye’n Wel, saans in die bed sien ek goed teen die plafon, wat ek aanteken in my notaboek…”

 

 Joan Miró

‘n Video gemaak deur Martin Hampton ter voorbereiding van die uitstalling Joan Miró, The Ladder of Escape in die Tate Modern in Londen in 2011.

[iframe src=”https://player.vimeo.com/video/22353761?color=ffffff&title=0&byline=0&portrait=0″ width=”640″ height=”360″ frameborder=”0″ webkitallowfullscreen=”” mozallowfullscreen=”” allowfullscreen=””]

JOAN MiRÓ @ TATE MODERN from Martin Hampton on Vimeo.

Send this to a friend