Liberty Batsson het pas haar eerste solo-uitstalling in Johannesburg se Absa-galery gehad en dié einste uitstalling is van 3 Augustus te sien in die Everard Read-galery in Kaapstad.
Johan Myburg
Batsson het in 2014 die aandag van die kunswêreld op haar gevestig toe sy daardie jaar die gesogte Absa L’Atelier-kunskompetisie gewen het. Benewens ? stewige kontantkomponent het dié prys haar ook in staat gestel om verlede jaar vir ses maande in die Cité des Arts Internationale in Parys deur te bring. Sy het tydens dié verblyf nie net die Paryse museums besoek nie, maar ook ‘n reis onderneem na Barcelona en Amsterdam.
Die laaste deel van die L’Atelier-prys is ‘n solo in die Absa-galery en vir dié geleentheid het sy ‘n versameling werk byeengebring onder die titel I bet you wish you did this.
Battson skilder met motorspuitverf op doek en haar werk is herkenbaar aan die helder kleurbane met ‘n hoëglans-afwerking.
Sy het in 2013 as finalejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria reeds aandag getrek toe ‘n triptiek van haar uitgestal is op die Turbine Art Fair in Johannesburg. Dié drie portrette (100 x 81 cm), van Oscar Pistorius, Tiger Woods en Lance Armstrong, het sy in dieselfde jaar vir haar eindeksamen gemaak as deel van ‘n groep werk, Stripes, Lines, Bands, Bars, Hoops and Streaks.
Sy het drie foto’s van individuele seges van elk gebruik en die name van die drie sportsterre gekodeer. Op dié manier het sy hulle in dowwe rooi, groen en blou gereduseer tot vertikale strepe.
Battson se werk pas knus in die tradisie wat alom bekend staan as hardedge abstraksie, in navolging van die Amerikaanse kunstenaars Barnet Newman (1905-1970) en veral Kenneth Noland (1924-2010).
Noland se bedoeling met colour field painting en hardedge abstraksie was om alle tekstuur en emosionele inhoud uit skilderye te haal. In sý streep-skilderye was kleur van primêre belang.
Dié streep-skilderye het Battson gefassineer en veral die modernistiese strewe na suiwerheid en absoluutheid in abstraksie. Sy het strepe begin bestudeer en besluit as sý strepe verf, moet dit vir ‘n rede wees. Die wêreld van statistieke het vir haar die uitweg gebied.
Vir die L’Atelier-kompetisie het sy ‘n diptiek ingeskryf met die titel Odds of an Artist like Me (2014). Die twee doeke dien as’t ware as grafieke waarop verskeie statistieke betreffende kunstenaars aangegee word – soos “2,7% van alle kunsboeke sluit die werk van vrouekunstenaars in” of “80% van kuns gaan volgens Kenneth Noland daaroor om beheer oor jou medium te kry”. Saam met die kunswerk gaan ‘n sleutel (in die vorm van ‘n boekie) waarmee die kunswerk gedekodeer kan word.
Só maak sy ook in I bet you wish you did this. Vir dié uitstalling het sy Google Instant gebruik as bron vir statistieke oor die laaste ses maande. Die kyker kan aan die hand van die sleutel in die katalogus die skilderye “lees” oor mense se soekgewoontes op Google – soos byvoorbeeld dat die meeste Franse inligting wil hê oor immigrasie, die Belge oor maagdelikheid, in inwoners van Groenland oor vlugtelinge en die Keniane oor James Bond.
Hoe jy ook al Battson se werk betrag: as ‘n bron van inligting of as estetiese voorwerp, die suiwer skoonheid van haar werk is betowerend. En boonop is haar eksperimentering en uiteindelike vernuf met motorspuitverf – wat bedoel is om vir gekurfde metaal – op skildersdoek, gewoon verbluffend.
Liberty Battson se portrette van Oscar Pistorius, Tiger Woods en Lance Armstrong – werk wat sy gemaak het as finalejaarkunsstudent aan die Universiteit van Pretoria.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/RYr-o98wJvQ” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
In dié video praat Liberty Battson oor haar werk, haar werkmetode en haar voorliefde vir strepe.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/XFfM1Q4-mrY” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Dié kort video is gemaak vir die aankondiging van die 2014 Absa L’Atelier-kunsprys.