Kuns van oraloor

Die werk van die vier benoemdes vir vanjaar se 30ste Turner-kunsprys word tot 4 Januarie in die Tate Britain in Londen vertoon. Dié kunsprys het in die verlede al vir ‘n goeie kwota omstredenheid gesorg. Deur Johan Myburg

 Die Turner-prys word jaarliks begroet met die vraag: “Maar is dit kuns?”

Sedert die Turner-prys – na die Engelse skilder JMW Turner (1775-1851) genoem – in 1984 vir die eerste keer toegeken is, was daar nog feitlik elke jaar opspraak rondom dié prys met ‘n algehele waarde van sowat R730 000.

Malcolm Morley, die eerste wenner, het byvoorbeeld dié “perderesies”, soos hy daarna verwys het, as “veragtelik” afgemaak en nie vir die prysaand opgedaag nie. Hy het die prysgeld egter nie van die hand gewys nie.

Die opmerking van die destydse Britse minister vir kultuur dat Morley syns insiens nié die sterkste kandidaat was nie, het verder gesorg vir mediadekking en die Turner-prys van meet af in die kollig geplaas.

Toe Damien Hirst die prys in 1995 gewen het met werk soos The Physical Impossibility of Death in the Mind of Someone Living, ‘n lewensgrootte haai in ‘n glaskas met formalien, en Tracey Emin in 1999 met My Bed, ‘n onopgemaakte dubbelbed, was die gort vir baie mense gaar. Is dit kuns? wou hulle weet.

In 2000 het die Stuckist-groep, wat figuratiewe skilderkuns bo kensepsuele kuns wil bevorder, sy eerste betoging teen die Turner gehou en die prys as ‘n “voortgaande nasionale grap” beskryf. “Die enigste kunstenaar wat nié gevaar loop om die Turner-prys te wen nie,” het hulle betoog, “is Turner.”

In 2008 het die Stuckists aangekondig hulle gaan vir die eerste keer nié betoog nie omdat die werk van die vier benoemdes só tam is dat dit nie protes werd is nie.
Aanduidings is dat die Stuckists vanjaar ook maar tuis kan bly. Verskeie Britse kunsjoernaliste is dit eens dat vanjaar se aanbod ‘n mens nie laat regop sit nie.

Drie van die vier benoemdes werk met die sogenaamde moving image en drie van die vier is oudstudente van die Glasgow-kunsskool. En nie een van die vier maak iets uit niets nie. Gevonde voorwerpe blyk die bepalende medium te wees.

Vanjaar is die benoemdes Duncan Campbell, Ciara Phillips, James Richards en Tris Vonna-Michell.

Campbell (42) maak dokumentêre prente van bestaande beeldmateriaal. Hy is benoem vir sy werk in die Skotse paviljoen op die Venesiese Biënnale.
Phillips (38) het ‘n voorkeur vir grafiese drukwerkkuns en is benoem vir ‘n uitstalling in Londen se The Showroom. Die herkoms van die materiaal wat sy gebruik, is net so belangrik as die werk wat sy (en etlike helpers) maak.

Richards (31) kombineer snitte uit tweedehandse VHS-videokassette met sy eie video-opnames. Hy is benoem vir sy werk wat deel was van The Encyclopaedic Palace op die Venesiese Biënnale.

Vonna-Michell (32) is benoem vir sy solo-uitstalling Postscript in Berlyn, Duitsland – lopende kommentaar wat hy direk en via opnames aan die hand van geprojekteerde beeldmateriaal, foto’s en gevonde voorwerpe lewer.
Die wenner word op 1 Desember aangekondig.

• Vier kunstenaars word jaarliks benoem vir werk wat hulle in die vorige 12 maande vertoon het. Vroeg-Oktober begin ‘n uitstalling waarin dié vier se werk vertoon word, hoewel die wenner aangewys word op grond van die werk waarvoor hy of sy benoem is. Britse kunstenaars jonger as 50 kom vir die prys in aanmerking en werk in enige medium kan kwalifiseer.

Dit gebeur dikwels dat die benoemdes vanweë hul deelname aan die Turner-prys bekend word. Van die vorige wenners het al te kenne gegee dat hulle moeite het met die skielike media-aandag, maar dit het die pryse van hul werk eweneens die hoogte laat inskiet.

Send this to a friend