Kuns in die kollig

In haar ateljee wat op ‘n inheemse bos uitkyk, werk Elizabeth Balcomb daagliks onverpoosd met keramiek, sement en brons. Haar ateljee is haar heiligdom waar sy beelde boetseer wat voortkom uit haar verbeelding, maar eweneens uit die omgewing van die Byrne-vallei waar sy woon. Johan Myburg het met haar gesels

Johan Myburg

 My gunstelingaanhaling op die oomblik is dié van Pablo Picasso: “Jou oogmerk is om jou gawe te vind. Jou doel is om dit weg te gee.”

Tot onlangs was Elizabeth Balcomb nie buite KwaZulu-Natal as kunstenaar bekend nie. Sy het ‘n paar keer in dié provinsie werk vertoon en in 2010 is sy as belowende kunstenaar in die KZN-streeksuitstalling aangewys.

Verlede maand het sy egter wyd aandag op haar gevestig toe sy die Sasol Nuwe Handtekeninge-kunskompetisie in Pretoria gewen het. En meteens is sy ingetrek in die kunswêreld in die geselskap van vorige wenners van dié prys soos Diane Victor en Kathryn Smith.

Dié sukses het sy met twee beelde behaal: I Am You en Survival, uit haar The Weighed and Measured-reeks.

Die reeks verwys volgens haar na die mens se verknogtheid aan die fisieke, aan besittings, aan goed. “Dis die mens se gees wat ons tot liefde, meegevoel en begrip aanspoor,” sê sy. “Ons afgemete besittings word ‘n las en ons gaan onder al ons verantwoordelikhede gebuk. Ons bestee stadig maar seker al minder tyd aan die mense vir wie ons lief is, want ons is te besig om aandag te gee aan die goed wat ons so troetel.”

‘n Mens kan byna iets van die wysheid van die Amerikaanse skrywer en mitoloog Joseph Campbell hoor deurslaan. Balcomb maak immers melding van die Navajos se verstaan van die “pollen path”, waarna Campbell in sy boek The Power of Myth verwys.

“Ek verstaan dit só,” sê sy: “Bye is alchemiste. Hulle trek van vroegdag tot laat nektar uit blomme en maak daarvan goue heuning. Dis ‘n groot werk, maar hulle dink nie só daaraan nie. Hulle bevraagteken nie hul eie waarde of plek in die lewe nie. Hulle volg hul impuls en bewerkstellig in die proses ‘n wonderwerk. Hulle gebruik elke oomblik om te word wie hulle is.”
En dan vul sy aan: “My ateljee is waar ek tyd deurbring, waar ek idees uit my maag trek, waar ek word wie ek is.”

Balcomb wou nog altyd kunstenaar wees, maar het daarteen besluit om kuns te gaan swot. “Dit was destyds net te erg om myself só bloot te stel,” sê sy. “Toe het ek die tweede hemel gekies: natuurbewaring.”

Ná haar studie in dié rigting was sy vir sewe jaar lank in omgewingsonderrig betrokke. Nou is sy eindelik heeltyds kunstenaar.
Nou kry sy dit reg om haar hartstog vir die natuur met haar ander passies te kombineer. Saam met haar lewensmaat en haar 13-jarige seun woon sy in ‘n natuurreservaat in ‘n huis wat hulle self gebou het.

“Ek volg my impulse, soos die bye, die voëls en die bokkies. Ek loop elke dag, soms met ‘n sketsboek en maak aantekeninge vir werk wat ek nog wil maak. Soms skribbel ek net ‘n moontlike titel neer.”

Oor formele kunsopleiding is sy filosofies: “Dit gaan oor die aantal uur wat jy aan jou vaardigheid bestee. Hulle sê as ‘n mens 10 000 gebruik om jou vaardigheid te slyp, sal jy dit kan bemeester.
“Ek dink nie ek sou die beelde gemaak het wat ek wel maak as ek formele opleiding gehad het nie.”

Send this to a friend