Kuns: Heidi Fourie

In Vrouekeur van 18 Maart skryf Johan Myburg oor die werk van die Pretoriase kunstenaar Heidi Fourie. Die inligting hier onder is ter aanvulling van die rubriek in Vrouekeur

JOHAN MYBURG

Vra ‘n mens Heidi Fourie uit na aansporing wat sy put uit eietydse skilders hier te lande verwys sy na Nigel Mullins, Anton Karstel, Frikkie Eksteen, Clare Menck, Michael Taylor en Georgina Gratrix.

Internasionale kontemporêre skilders wat haar fasineer is die Franse skilder Edwige Fouvry wat deesdae in Brussel woon; die Amerikaanse skilder Hernan Bas met sy voorstelling van manlike jeugdigheid in tonele wat deur die natuur oorheers word en die Nederlandse kunstenaar Simon Schrikker met sy ongelooflik verleidende “dik plakke verf”.

“Geen medium kom vir my naby olieverf nie, danksy die lang droogtydperk wat ‘n mens toelaat om die kleure oor die oppervlak te smeer en rond te stoot totdat dit op die regte plekke sit,” sê Fourie. “Dit neem die intimidasie van die plasing van ‘n merk weg en laat ‘n mens toe om risiko’s te vat. Ek hou ook daarvan om reduktief te werk. Omdat ek verf en byna nooit teken nie kan ek amper nie meer objekte of tonele in lyne visualiseer nie. As ek verf, dink ek aan kleurvlakke. Selfs in my alledaagse lewe breek ek soms dit wat ek sien op in vlakke en dink hoe ek elke vlak as ‘n merk kan neersit.”

‘Skerwe verbeeld’

Oor haar uitstalling saam met Allen Laing op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn, van 24 tot 30 Maart, sê Heidi Fourie:

Die titel van ons uitstalling is Skerwe verbeeld of in Engels Fragments Imagined.

Die meeste museumuitstallings wat ons al besoek het, is gewoonlik ‘n mengelmoes van feitelike diagramme en bevindings, teoretiese voorstellings geskoei op leidrade en raaiskote en vermaaklike versierings. Ons oogmerk is om die elemente in ons uitstalling dalk eerder op ‘n arbitrêre wyse te laat kommunikeer met heelwat ruimte vir interpretasie.

Laing se argeologiese artefakte stel gereedskap voor wat oplossings vir alledaagse probleme bied – probleme wat ‘n mens dalk in ‘n fiktiewe samelewing sou teëkom – maar wat wel hedendaage sosiale uitdagings takel. Soos byvoorbeeld die energie wat vermors word op padwoede. Dié kan ‘n mens nou met behulp van sy gereedskap in ‘n botteltjie in die vorm van vloekwoorde opvang vir latere gebruik. Sommige van die gereedskap kan vir selfverdediging gebruik word – teen die uitbuiting van ander.

Oor haar eie werk sê Heidi Fourie: “My werk bestaan uit voorstellings van landskappe wat op die oog af onbewoond en dor is, maar die bo-grond en ondergrond is terselfdetyd sigbaar en dit kom voor asof daar baie meer ónder die grond aangaan as bo. Lae verf en voue en skeure van kwashale herinner meer aan ‘n broeiende energie en abstrakte kragte wat teen mekaar werk. Waar Laing na die fiktiewe “spasie” kyk op ‘n intieme vlak waar oorlewing, tegnologie en gebruike sigbaar is, kyk ek na die landskappe van ‘n afstand waar slegs natuurlike elemente sigbaar is – geïsoleerd, ontwortel en verwyderd van konteks.”

Looming Large I, 2015, olie op doek (28 x 28 cm), een van Heidi Fourie se skilderye.

Een van Heidi Fourie se monodrukke, ‘n portret van Allen Laing, 2015, (35 x 32 cm).
Die werk heet all I said was….

Allen Laing se Wordpower Accumulator, gemaak van teak, jakaranada, rooshout, glas, geelkoper,
koper, leer en plastiek, is een van die werke wat op die KKNK in Oudtshoorn te sien is.

Send this to a friend