Klassieke klanke: Romantiek

In die Lieder van Franz Schubert (1797-1828) kry bykans al die eienskappe van die Romantiek gestalte. Hy het meer as 600 liedere, waar onder die reekse Die schöne Mullerin en Winterreise, nagelaat toe hy op 31-jarige leeftyd dood is.

JOHAN MYBURG

Maar dit is op sy opvolger, Robert Schumann (1810-1856), en dié se vrou, Clara Schumann (gebore Wieck) (1819-1896), waarop dié rubriek fokus. Dié twee se loopbane is so verweef dat ? mens kwalik oor die een kan praat sonder om die ander ook ter sprake te bring.

As die seun van ‘n skrywer en boekhandelaar het Schumann van kleins af ‘n belangstelling gehad in letterkunde, veral dié van Romantiese skrywers soos Friedrich Schlegel en ETA Hoffmann. Hy het egter besluit om ‘n konsertpianis te word en het in Leipzig studeer onder die leiding van Friedrich Wieck.

As gevolg van ‘n handbesering moes hy dié droom laat vaar en het hy besluit om hom toe te lê op komposisie.

Wieck se dogter Clara was ‘n bekwame pianis. Op nege het sy haar eerste openbare uitvoering gegee en daarna op ‘n konsertreis deur Europa onderneem. Op 20 was sy ‘n gerekende pianis in ‘n wêreld wat deur mans as pianiste en komponiste oorheers is.

Schumann en Wieck is in 1840 getroud. Hoewel haar loopbaan as konsertpianis onderbreek is deur agt kinders, wat gebore is tussen 1841 en 1854 en wat sy moes grootmaak, het sy bly komponeer. Ná Schumann se dood in 1956 het sy weer begin optree en ook klas gegee, maar nie verder gekomponeer nie. Daar is aanduidings dat sy ná haar man se dood vertroue in haar vermoë as komponis ontwikkel het en eerder gefokus het op die interpretasie van Robert Schumann se werk.

Die eerste Kersfees ná hulle troue het Clara vir Robert drie liedere as geskenk gegee. Sy het dit met die hand uitgeskryf op wit papier, met lint gebind en met die inskripsie: “in diepste nederigheid opgedra aan haar geliefde Robert, Kersfees 1840. Van sy Clara.” Sy was 21.

Teen daardie tyd het sy ‘n taamlike versameling liedere geskryf gehad – een daarvan, Walzer, is in 1833 gepubliseer, asook ‘n scherzo vir orkes en ‘n klavierkonsert.

In 1856, net voor Robert se dood, is sy genooi om in Engeland op te tree saam met die London Philharmonic Society. Op hierdie eerste van vele besoeke aan Londen het sy ook saam met die New Philharmonic Society ‘n uitvoering gegee van haar man se Klavierkonsert in a.

Die volgende jaar is sy saam met die violis Joseph Joachim, ‘n goeie vriend van die Schumanns, op ‘n konserttoer na Dresden, Leipzig en München. Op dié manier het sy as weduwee geld verdien om haar kinders te onderhou.

Vroeg in 1867 is sy en Joachim en saam met ‘n groep musici na Edinburg en Glasgow in Skotland. Teen 1870 het haar gesondheid agteruit gegaan hoewel sy tot in die laat 1880’s reise bly onderneem het.

In 1878 het sy ‘n pos aan die konservatorium in Frankfurt aanvaar. Sy het haar laaste uitvoering gegee in 1891, vyf jaar voor haar dood op 77.

In haar “Geheimes Flüstern” eggo Clara Schumann byvoorbeeld Robert Schumann se siening dat die klavier ten opsgite van Lieder nie maar blote begeleier is nie, maar gelykwaardige venoot, soos dit ook gestalte kry in sy liedsiklus Dichterliebe (Digterlewe).

Kyk hier na Amaia Azcona (sopraan) en Matthieu Esnult (klavier) se vertolking van
Clara Schumann se “Geheimes Flüstern hier und dort”, op. 23 no. 3.
[iframe width=”400″ height=”225″ src=”https://www.youtube.com/embed/y2lMR8GJm9o?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
 

In 1947 het Clarence Brown die rolprent Song of Love gemaak oor die lewe van Clara en Robert Schumann. Katherine Hepburn het die rol van Clara vertolk, Paul Henreid die rol van Robert en Robert Walker dié van die jong Johannes Brahms. Dié rolprent is op die internet beskikbaar.

Send this to a friend