Kuns: Kuns uit eie bodem

Johan Myburg skryf oor Gislebertus, die 12de-eeuse beeldhouer wat vir homself naam gemaak het

Johan Myburg

Die gebruik dat ‘n kunstenaar sy of haar naam op ‘n kunswerk aanbring dateer uit die Middeleeue. Die ou Griekse beeldhouers het byvoorbeeld dié vorm van outeurskap nie geken nie.

Dit was na alle waarskynlikheid ene Gislebertus, ’n 12de-eeuse Franse beeldhouer, wat die eerste kunstenaar geword het om sy naam op ‘n kunswerk uit te beitel.
Die storie loop so.

Vroeg in die 12de eeu het die biskop van die stad Autun in Boergondië in die ooste van Frankryk beplan om ’n katedraal te bou as bewaarplek vir die beendere van Lasarus, die man wat Jesus uit die dood opgewek het. Relikte, die oorskot van heiliges, was in die Middeleeue nie net van spirituele belang nie, maar het ook besliste ekonomiese waarde gehad. Pelgrims sou van oral kom om dié beendere te betrag en baat te vind by die genesingskrag wat dit sou hê.
Vir ’n imposante katedraal het die biskop ’n knap beeldhouer nodig gehad en Gislebertus was die aangewese kandidaat. Van Gislebertus is bitter min bekend.

Die katedraal, na die heilige Lasarus genoem, is in die Romaneske styl gebou wat die 10de tot 12de eeu gekenmerk het: ’n versmelting van die nalatenskap van die klassieke era, Keltiese en Germaanse tradisies en Oosterse invloede.
Gislebertus het eers aan die oostelike fasade van die katedraal gewerk, wat in 1130 voltooi is, en toe aan die westelike timpaan, ’n halfmaan met beelde wat rus op ’n latei bokant die ingang.

In dié timpaan het Gislebertus die laaste oordeel verbeeld: met Christus in die middel, aan sy regterkant dié wat die oordeel vrygespring het en aan sy linkerkant die verlorenes in die hel.
Dis vir dié meesterstuk, sowat 6 meter hoog, waarvoor Gislebertus onthou word.
Maar hy het ook seker gemaak dat hy onthou word. Reg onder die figuur van Christus het hy dié woorde in Latyn geskryf: “Gislebertus hoc fecit” wat beteken Gislebertus het dit gemaak.

En daarmee aan die hand van dié inskripsie, is die eerste amptelike outeurskap vir ’n kunswerk aan Gislebertus toegedig.
Daar is, soos met alle stories uit die geskiedenis, ook ‘n ander interpretasie: dat die Gislebertus wie se naam daar staan nie die beeldhouer was nie, maar ‘n welvarende Boergondiese landheer deur wie se toedoen die katedraal opgerig is.
Hoe ook al. Bekyk ’n mens die uitbeelding van dié laaste oordeel kom jy net weer onder die indruk hoeveel vrees dit by gelowiges moes ingeboesem het. Vir dié wat nie kon lees nie moes beelde van die verskrikking van die hel getuig en die wêreld oortuig om tot bekering te kom. Vir dié wat kon lees was daar ‘n inskripsie bokant die latei wat dit onomwonde stel: ‘Mag hierdie verskriklike beelde dié wat nou in sonde leef verskrik, want die angswekkende uitbeelding in dié beelde is aanduiding van hoe dit gaan wees.’

Op die mandorla wat Christus omring staan geskryf: “Ek alleen oordeel en kroon die regverdiges, maar dié wat onheil najaag sal Ek straf.”

Hoewel dié uitbeelding van die laaste oordeel beroemd geraak het (en die katedraal van St Lazare heelwat in die sak besorg het), was daar ook kerklui in die 18de eeu vir wie dié spektakel, veral van die hel, net te lelik was. Gislebertus se beelde is in 1766 toegepleister om ‘n ander kunswerk bo-op dit aan te bring. Die timpaan is in 1837 weer oopgekap.

(hooffoto)
Die timpaan en latei met die uitbeelding van Christus as die regter tydens die laaste oordeel. Dié beeldhouwerk uit die vroeg-12de eeu, aangebring aan die westekant van die St Lazare-katedraal in Autun, Frankryk, word toegeskryf aan Gislebertus.

Send this to a friend