Kuns: Winter Sculpture Fair

Die afgelope paar jaar het die Winter Sculpture Fair (WSF) op die Nirox-landgoed in die Kromdraai-omgewing noordwes van Johannesburg en suidwes van Pretoria in ideale herfsweer plaasgevind. ‘n Mens hoop dis dié jaar weer twee behaaglike herfsdae.

Johan Myburg

Nirox is in die hart van die Wieg van die Mensdom en beslaan 15 hektaar met landskaptuine, kompleet met tamaai bome, golwende grasperke en waterpoele wat met mekaar verbind is.

Vanjaar word dié buitelug-kunsuitstalling, wat gepaard gaan met die keurigste kos en wyn uit die Franschhoek-omgewing, op 7 en 8 Mei aangebied.

Artlogic, ? onafhanklike Johannesburgse firma wat onder meer ook jaarliks die Joburg Art Fair aanbied, bring in vennootskap met Franschhoek Toerisme ‘n keur uit die Franschhoek-vallei se sjefs en wynmakers na die WSF. Franschhoek en omgewing het die afgelope jare bekend geword as Suid-Afrika se kulinêre hartland.

Onder die kelders wat deelneem is Anthonij Rupert-wyne, Backsberg, Boschendal, Haute Cabrière, La Motte, My Wyn, en Vrede en Lust. Eetplekke sluit in Bread & Wine Vineyard-restaurant op die Môreson-plaas, Café des Arts, Dutch East, Foliage, Fromage de France, die boutique chocolaterie Hugenot en The Really Interesting Food Company.

Maar die groot trekpleister is die beeldhouwerke wat versprei oor die landgoed uitgestal word. Die werk wat vanjaar vertoon word, is gemaak in voeling met die omgewing van die Nirox-landgoed, ‘n skamele 5 km van die plek waar die hominied-spesie Homo naledi onlangs gevind is.

In vorige jare was die klem nog taamlik ingestel op die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars. Vanjaar span die Nirox-stigting saam met die Britse Yorkshire Sculpture Park (YSP) vir ‘n uitstalling van beeldhouwerk deur meer as 40 Suid-Afrikaanse én buitelandse kunstenaars.

Die YSP in Wes-Yorkshire is ‘n opelug-galery wat die werk van Britse sowel as buitelandse kunstenaars vertoon. Die ruimte wat die YSP afstaan aan die bronsbeelde van Henry Moore is byvoorbeeld die grootste in Europa.

Helen Pheby, senior kurator van die YSP, is vanjaar die kurator van die WSF met die titel A Place in Time. Pheby pak dié taak aan in samewerking met die Johannesburgse kurator Mary-Jane Darroll wat bygestaan word deur Naudia Yorke en Danika Bester.

Onder die buitelandse kunstenaars wie se werk ingesluit is, is die Britte Richard Long en Thomas J. Price, die Egiptiese kunstenaar Moataz Nasr, die Amerikaner Rachael Champion en die Oekraïnse beeldhouer Anton Burdakov wat deesdae in Londen en Berlyn woon en werk.

Oor Long se werk is verlede week in dié rubriek geskryf.

Die Suid-Afrikaanse kunstenaars sluit in Willem Boshoff, Nandipha Mntambo, Mikhael Subotsky, Angus Taylor, Macro Cianfanelli en Serge Alain Nitigeka wat van Burundi kom en deesdae in Johannesburg woon en werk.

Die 2016 Winter Sculpture Fair is op albei dae van 10:00 tot 17:00 oop vir die publiek. Kaartjies kos R165 slegs by www.webtickets.co.za. Toegang vir kinders jonger as 12 is gratis. Kos en wyn is op albei dae by stalletjies te koop. Besoek www.wintersculpturefair.co.za.

‘n Foto wat geneem is tydens verlede jaar se Winter Sculpture Fair.

Kyk hier na Artlogic se video oor verlede jaar se Winter Sculpture Fair.

[iframe src=”https://player.vimeo.com/video/152533031″ width=”640″ height=”274″ frameborder=”0″ webkitallowfullscreen=”” mozallowfullscreen=”” allowfullscreen=””]

Winter Sculpture Fair from DotKomrade on Vimeo.

Send this to a friend